Listeriose in diere

Vraag: Daar het ‘n berig oor die nuus gekom dat sterfgevalle a.g.v. listeriose in mense in Suid-Afrika voorgekom het. Kom die siekte ook in diere voor?

Antwoord:

Listeriose word veroorsaak deur ‘n bakterium (kiem), Listeria monocytogenes. Drie sindrome kom voor nl. breinvlies- en breinontsteking (meningo-ensefalitis),aborsies of stilgeboortes  en bloedvergiftiging (septisemie). Mastitis en oog- en oogslymvliesontsteking is ook al gesien.

Die ontsteking van die brein en breinvliese word die meeste in herkouers gesien terwyl die bloedvergiftigingsindroom meer dikwels in enkelmaagdiere en jong herkouers voor kom.

Dr. Marijke Henton, bekende bakterioloog, sê dat sy die kiem so eenmaal elke 5 jaar in haar laboratorium isoleer uit monsters wat sy ontvang.

Gevalle wat al voorgekom het, is vrektes in beeste en skape wat swak gehalte weggooi  ertappels gevreet het. Die geval het in die koue Hoëveld van Mpumalanga in die winter voorgekom aangesien die kiem daarvan hou om in lae temperature te vermeerder. Nou onlangs is die kiem ook geїsoleer uit ’n breinmonster  van ‘n skaap wat uit KZN gestuur is. Die kiem is ook een keer uit ‘n mastitismonster van ‘n melkkoei geїsoleer asook enkele aborsies.

Listeriose kom dwarsdeur die wêreld voor, maar word meestal gevind in areas waar die temperatuur gematig en koud is bv. Nieu-Seeland, gedeeltes van Australië,  Noord-Amerika, Europa en Groot Brittanje. Kliniese siekte kom veral voor gedurende die laat winter en lente.

Voorkoms van die kiem

Die kiem L. monocytogenes, kom wydverspreid in die natuur voor en is al geїsoleer uit ‘n wye verskeidenheid gesonde en siek diere en voëls asook uit grond, water, riool, modder en kuilvoer. Die kiem kan ook voorkom op groente en vrugte. ‘n Groot  persentasie van gesonde skape en bokke is subkliniese draers van L. monocytogenes en skei die kiem in hulle mis en  melk uit as hulle gestres word. Melk van diere moet gepasteuriseer word want hierdie kieme oorleef bevriesing en is ‘n gevaar vir die mens. Vleis is uiters selde ‘n bron van besmetting vir die mens. Listeria word deur die gaarmaak van vleis vernietig. Goeie higiënepraktyke, soos om  rou vleis te skei van ander kosse wat rou geëet gaan word, is natuurlik belangrik.

 

Listeriose word dikwels geassosieer met die voeding van swak gehalte kuilvoer met suurgehalte (pH) bokant 5,5. Dit is veral die bo- en sykante van die kuilvoersloot wat besmet is.

Verlaagde weerstand van diere veroorsaak deur omgewingstoestande mag ook ‘n rol speel in die voorkoms van listeriose. Nog ‘n rede mag die wisselling van tande in jong skape in die vroeë lente wees waar die kieme met die tandsenuwee na die brein versprei.

Kliniese tekens

Die breinvlies en breinontsteking vorms van die siekte kom meestal voor in herkouers. Die verloop van die siekte is gewoonlik 2 tot 3 dae in bokke, skape en kalwers en in volwasse beeste een tot 2 weke.

Aangetaste diere se koors styg eers waarna dit na normaal en onder normaal val.  Diere is depressief, loop in sirkels en het inkoördinasie,  hou die kop skuins, unilaterale verlamming van die gesigsenuwee wat vertoon as verslapping van die lippe, ore en ooglede kom voor. Die spiere van die kake en farinks verlam sodat diere nie behoorlik kan kou en sluk nie. Kos en slym hang by die bek uit. Uiteindelik tree algehele verlamming in en die dier vrek. Wat ook al gesien is, is fietsrybewegings van die voorpote (kan met hartwater verwar word), moeilike asemhaling, verlamming van een been en oogslymvlies- en oogontsteking.

Sporadiese aborsies is meer algemeen in beeste. Waar aborsies gedurende laat dragtigheid voorkom in koeie en ooie, sit die nageboorte gewoonlik vas.

Septisemiese listeriose is die mees algemene vorm wat gevind word in fetusse en pasgebore herkouers en soms in enkelmaagdiere.

Diagnose

‘n Voorlopige diagnose kan gemaak word op kliniese tekens en op histopatologiese ondersoeke van weefsels.

Bevestiging van die diagnose vind plaas as die kiem, L. monocytogenes,, uit geaffekteerde weefsel geїsoleer word.

Differensiale diagnose

Listeriose kan verwar word met ander siektes en kondisies soos bv. breinabsesse, sist op die brein (Coeneurus cerebralis), loodvergiftiging, hartwater, CCN (vitamien B1, tiamien tekort), hondsdolheid, ander bakteriese infeksies wat die brein aantas bv. Histophilus somni.

Beheer

Die kiem, L. monocytogenes, is vatbaar vir ‘n wye reeks antibiotika. Die prognose is baie swak as senuweesimptome eers ingetreë het. Bykomende ondersteunende behandeling moet deur jou veearts verskaf word totdat die dier self kan drink en vreet. Onthou om sagte beddegoed aan diere te verskaf om druksere te voorkom.

Bron: Coetzer, J.A.W. and Tustin, R.C. 2004. Infectious Diseases of Livestock, Oxford University Press.

ISBN 0 19 5778202 X

Geskryf deur:  dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za) en dr. Marijke Henton, Bakterioloog, Vetdiagnostix (henton@vetdx.co.za)

5 Desember 2017